Barry kyk na sy blurry kneukels.. dis daai staar waar jy na iets kyk, maar jy sien dit nie. Hy besef hy sien nie mooi nie en sy oë verstel om die bakkie se stuurwiel waarop sy hande rus in fokus in te bring.
Daar is nie eintlik ‘n spesifieke gedagte in Barry se kop nie, eerder ‘n poespas van verskillende vrae.
Hoekom kyk mense nie om hulle terwyl hulle in hul karre sit in die verkeer nie?
Waarom laat Metro polisie taxis wegkom met hulle kinderkak?
Hoekom hoor Barry nooit van mense wat hy vroeer in sy lewe geken het nie?
Dit is maar die punt van die ysberg van gedagtes.
Barry kyk na die vrou in die kar langs hom. Albei haar hande is op die stuurwiel en sy staar strak voor haar uit. Die motor se vensters is toe so mens weet nie of sy in stilte sit nie. Haar gesig het geen uitdrukking nie, maar jy kan sien dat haar kop in overdrive is. Vanaand se aandete, dalk kinders se huiswerk en klere en ander uitgawes wat soos ‘n Tetris speletjie netjies in gepak moet word. Sy wag ook vir die verkeerslig om groen te slaan sodat sy by die volgende verkeerslig kan uitkom om weer te sit en wag.
‘n Taxi sny in die linksdraai baan in en bokspring voor die aankomende verkeer in om die gewag te skip. “Kinderkak” dink Barry.. “die motherfuckers kom weg met kinderkak en niemand lig ‘n vinger nie.”
Die lig slaan groen en die Hilux se diesel engine brul. Almal spring weg, die wiele rol. Vir ‘n oomblik pause almal se koppe om die laaste oorblyfsels van K53 in te span sodat die verkeer kan aanhou beweeg.
Skielik is daar flikkerligte en toeters in oorvloed. “Wat gaan aan, hoekom druk hierdie Kia my in ‘n blik?! Oh! alweer ‘n PUTCO bus wat staan.“. Nou is dit ‘n drukgang en die skape jostle vir ‘n plek in die baan wat beweeg. Barry briek hard en die Kia skiet voor hom in. Barry kyk in sy spieeltjie na die bus wat soos ‘n dikgat Metro offisier in die pad staan en fokol doen, niks vir niemand beteken nie. Die metafoor van die moerse bus wat alles versper en niks beteken nie maak dat Barry sy kop skud… en maak weer die sluise oop vir die gedagtes om te vloei.
“Wens ou kon ‘n werk doen wat ‘n impak maak in die wêreld. Ramaphosa moenie vir my sê daar is werkloosheid nie, kyk hoe vuil is die strate. Wonder of daar ooit weer iets exciting gaan gebeur.” slaan die gedagtes soos golwe teen die dollosse…
Die pas van die Hilux raak vinniger soos wat minder voertuie, verkeersligte en stopstrate die vloei belemmer. Die vloed van gedagtes wat vir een of ander rede ongevraagd, onwelkom by Barry opkom borrel en druis nou soos die bruiswater van die Vaalrivier tussen Barry se ore. Ongeantwoord, ongeliaseer, oorgelaat aan die noodlot tot volgende keer….
- end -
