Twee weke terug vind Barry en sy vrou uit dat Barry se skoonpa vir ‘n week afgaan Durbs toe. Almal werk mos nou “remote” so toe scheme ons ons gaan saam! Perfekte kans vir die kinders wat op skool vakanasie is om bietjie in die see te swem, roomys te eet en te veel tv te kyk.
Nogal ‘n lanie pozzie ook, reg op die promenade teenoor die hoof strand en so 500 meter van Ushaka Marine World af. Die woonstel kan 8 mense slaap en jy kan jou eie kos maak op ‘n elektriese stoof. Jy kan sien die gebou kom uit die hayday van apartheid af, maar is darem mooi opgepas en word in een stuk gehou. Heelwat turqoise in die verfwerk en groot, gladde marmer teëls oral. In die ontvangs area is ‘n kerrie en ribs restaurant. Ons’t eers later uitgevind dis halaal toe ons ‘n bier daar probeer drink het saam die kerrie wat ons geëet het.
Sondag oggend besluit Barry en sy gesin hulle gaan vir die dag Ushaka toe om visse te kyk en glybane te ry. Moes eintlik geweet het die pandemie sou ‘n moerse damper op als sit, maar ja, hier gaat ons, maskers om die bekke en handoeke om die nekke. Jy ruik net sonroom en clutchplaat soos ons voorwaarts keer. Meeste van die winkels by Ushaka het dit deur die pandemie gemaak. Als wat lekker was is met hekkies en tralies toegemaak vir C-19. Oudergewoonte moet ons eers ‘n Wimpy brekkie deurwerk en dan karring ons ingang toe om te sien wat die reëls en kostes is vir ons avontuur.
Ushaka is nou opgedeel in twee sessies; ‘n oggend sessie en ‘n middag sessie. Slegs 500 mense per sessie. Die prys bly dieselfde vir helfde van die pret. Ons sien ‘n moerse lot visse en hoe ‘n duiker ‘n groep Rays voer – baie cool. Haaie, palings, see sterre, anemone, skilpaaie en toe die dolfyn vertoning (wat ons toe later op Seaspiracy sien is blykbaar baie cruel en dra by tot die uitwissing van ons oseane – major downer). Dolfyne is soos see honde, hulle sal enige iets doen vir ‘n treat.
Daar klaar snol ons water park toe. Al die beste rides is gesluit weens C-19. Fok. Ok, well, ons is nou hier so ons gaan maar die beste maak. Ons kry ‘n plekkie op die fake gras vir ons handoeke so ver as moontlik weg van die shebeen DJ af. Dit klink of hy een beat gekies het, hom op repeat gesit het en toe gefokof het vir die res van die dag met die volume knoppie op 11 afgebreek. Nou swem ons en ons ry glybane en dit gaan lekker. Kort voor lank is ons tyd op vir die sessie en ons moet die plek ontruim. Oppad hotel toe stop ons eers by die Checkers om ‘n ordentlike glas te koop waaruit mens ‘n lekker stewige brandewyn kan drink. Barry vermoed die glase in die woonstel is dalk by ‘n kinder partytjie gesteel…
Tot dusver was dit ‘n redelike teksboek dag, of so het ons gedink… min het ons geweet van die shitshow wat wag by die woonstel.
Met die oopsluit van die woonstel deur val Barry oor ‘n klomp tasse wat by die deur gepak staan. “Weird” scheme Barry, “is die skoonmaker nou hier of wat gat aan?!”. Met die instap sit skoonpa in die kamer met ‘n knerts in die hand, hy tuur uit oor die oseaan en kyk elke nou en dan na sy telefoon se skerm. Skoonpa se girlfriend en haar suster sit in die voorkamer ook met ‘n knerts in die hand. Barry vermoed onraad maar hy gaan nie dat ander mense se kak sy vakansie spoil nie. “Ons gaan dan maar eers in die see swem” reken Barry en hy vra of sy skoonpa wil saam loop. Barry is eintlik moerse nuuskierig oor wat aan die broei is.
So daar sit Barry en sy skoonpa nou op die strand in die wind terwyl Mercia en die kinders op en af in die branders hardloop. Skoonpa krap met sy vinger in die sand en kou sy valstande.. mens kan sien hy is befok. Barry vra toe nou maar die obvious vraag. Volgens skoonpa het hy nou “genoeg gehad van die vrou se kak”. Sy sê hom heeltyd wat hy moet doen, en hy moet alewig almal sponsor (Barry flinch so bietjie, want hulle is ook mos nou gesponsor die week). Na ‘n rukkie se oor en weer bespreking, besluit skoonpa dis nou genoeg, hy gaan op gaan woonstel toe en vir skoonvrou en haar suster die trekpas gee. Hy sal vir hulle ‘n aparte kamer vir die aand boek en dan kan hulle die volgende dag met die Greyhound terug karring na waarokal hulle wil. Barry wil nog keer, maar dis te laat.
‘n Rukkie later loop Barry en fam toe terug hotel toe om verder te gaan swem in die warm swembad. Manne, daar word ons oorval deur skoonvrou en haar suster. Albei praat baie hard, haar suster is effens tranerig. Die kak het proper gespat. Skoonpa het hulle gevra om asb te waai, en nie weer terug te kom nie. Hulle kyk in niemand se oë vir niks, en sê hom toe sommer hy moet die ekstra kamer in sy gat op druk; hulle slaap eerder op die strand as om nog ‘n enkele ding van hom af te vat nie. In ‘n oogwink is die partytjie van 7 nou ‘n partytjie van 5.
Terug in die woonstel is die mood somber. Skoonpa sal nou die ding moet uitpraat maar die kinders is in die kamer, so mens moet maar jou woorde tel. Skoonpa klim die wit perdjie whisky en hy vat vas. Die res van die mense probeer nou maar lyk of hulle op vakansie is, maar dit gaan maar awkward. Barry staan by die venster net so na son onder en kyk vir die skepe wat wag om in die hawe in te kom. Links onder sien hy die twee vrouens op die promenade stap met hul tasse na wie weet waar. Uiteindelik is dit slaap tyd, en voor Barry aan die slaap raak, wonder hy wat gaan nou van die twee mense word, en hy wonder wat die volgende paar maande nou weer gaan inhou met skoonpa wat nou weer ‘n bachelor is.
Die volgende oggend vroeg is skoonpa uit die vere uit, gepak en reg om terug te rol huis toe. Hy trust blykbaar nie die vrou nie en sy het after all ‘n sleutel vir die huis. Hy is bang sy los vir hom net die bakstene en die dak as hy die heel week in Durbs bly. Al Barry en Mercia se planne om die oumense as nannies te gebruik in die week is in sy moer. Terwyl Barry met sy koffie in hand by die venster staan en kyk hoe die son op kom oor die Indiese oseaan, sien hy die Greyhound intrek en die twee vroumense met al hul bagasie op die bus klim. “Ten minste is hulle darem veilig” dink Barry by homself.
- end -
