In Oktober is dit weer tyd vir die jaarlikse manne hengeltrip Bloemhof toe. Sandveld natuur reservaat, om presies te wees. Dit is gewoonlik vier dae van kak praat, braai, visse voer en natuurlik alkohol ver(mis)bruik.
Dis weer die usual suspects hierdie jaar. My ouboet Hendrik, Zandre, Sweis, Frik en dan ‘n hele paar ander manne wat mens slegs op die trip sien. Ons gesels darem met mekaar op Whatsapp so deur die jaar tussen die memes en tietie-fotos deur.
Ou Gorrelpot sal hierdie jaar ongelukkig nie die ekskursie kan meemaak nie as gevolg van Covid… Indien jy nie kan aflei nie, Gorrelpot is so “afrika pot” wat half vol met al die laaste bietjies Jägermeister, Hot Shots, Whiskey, Potency, etc gemaak word en dan omgestuur word as strafdop, juigdop, enige dop… Ons CEO (Chief Entertainment Officer), Oom Drikus, is in beheer van die Gorrelpot… ten minste solank hy semi-nugter is. Daarna word dit ‘n free-for-all en die ou wat die joligste dronkgat is neem gewoonlik die gorrelpot duties oor.

Gorrelpot het al menige manne se kniee lam gemaak
Om te hengel beteken om op te let in die klas, te fokus op wat jy doen, en actually visse uit die dam uit te trek aan die punt van ‘n lang stuk vislyn. Om te hengel vat inspanning, voorbereiding en toewyding. Dit wat jy in sit, kry jy gewoonlik uit.
Om vis te vang beteken iets heeltemal anders. Jy kan visvang in jou swembad of in ‘n pothole! Vis vang is eintlik ‘n resies tussen die visserman en die visse om te kyk wie die meeste vloeistof oor hul lippe kan kry in die minste tyd. Die probleem lê daarin dat die visserman se vloeistof opwaarts vloei, na sy brein toe. Vis vang lei gewoonlik nie tot hengel nie.
Wanneer die visserman wel hier teen laat namiddag af strompel na sy hengel gerei toe is dit gewoonlik ‘n langdradige storie om die aas in die water te kry omdat hy kort-kort moet stop om eers ‘n sluk van sy dop te vat of ‘n plukkie van sy sigaret te vang. Party ouens gee op, en kies om eerder verder te gaan “vis vang”. Ander ouens druk deur, laai die strop met aas, en gooi dan die spul min of meer voor hulle erens in die water in. Dit is dan ook gewoonlik daai ou wat netnou gaan slaap (uitpass) en dan sy hengel alarms aan los om jou 1 uur more oggend wakker te skreeu terwyl hy ongedeurd voortslaap.
Ons hoop maar om hierdie jaar ‘n gebalanseerde ekskursie mee te maak. Die manne is hard besig om voor te berei vir die hengel, en oor naweke, oefen hulle solank vir die visvang!
- end -
